Joel het ’n ernstige probleem gehad: hy het dinge gevat wat nie aan hom behoort het nie. Soms het hy ma se varsgebakte koekies uit die koekieblik weggesmokkel, of Nathan se viltpenne geneem sonder om te vra of hy dit mag gebruik. Om sake te vererger, het Joel gelieg of verskonings gemaak wanneer hy uitgevang is. Ma en Pa moes Joel baie keer straf. Hulle het vir hom gesê dat as hy aanhou om klein goedjies sonder toestemming te vat, dit daartoe kan lei dat hy groter goed steel namate hy ouer word.
En God haat steel!
Op ’n dag het Ma vir Joel en Nathan na Weaver se plattelandse winkel geneem om skoene te koop. “Kyk, Ma,” het Joel opgewonde gesê en na die blink sakmesse op die toonbank gewys. “Sal Ma asseblief een vir my koop?”
“Nee, Joel,” het Ma geantwoord. “Jy moet wag totdat jy ouer is voordat jy ’n sakmes kry.”
“Goed,” het Joel ietwat teleurgesteld geantwoord.
Later, terwyl Ma besig was om skoene vir Nathan aan te pas, het Joel weer na die sakmesse voor in die winkel gedwaal. Hy het verlangend daarna gekyk. “Daardie wit een is pragtig,” het hy by homself gedink. “Ag, as ek dit tog maar net kon hê! Ma verstaan eenvoudig nie dat ek oud genoeg is om een te hê nie. Al die ander seuns van my ouderdom het sakmesse.” Net toe het nog ’n lelike gedagte by hom opgekom. “Ek dink ek gaan net daardie wit een vat. Niemand sal ooit weet nie.” Joel het in die rigting van die agterkant van die winkel gekyk, waar mnr. Weaver besig was om Nathan se skoene aan te pas. Niemand het gekyk nie, daarom het hy vinnig sy hand uitgesteek, die wit sakmes uit die boks op die toonbank gevat en dit in sy sak gesteek.
Joel het senuweeagtig omgedraai en in die paadjie teruggestap. Sy kop het begin bons, en sy hart het so hard geklop dat hy bang was almal kon dit hoor. Hy het gehoop Ma sou langer neem om Nathan se skoene aan te pas. Dan sou sy dalk nie agterkom hoe warm en rooi sy gesig geword het nie. Dit het altyd gelyk of Ma agterkom wanneer iets verkeerd was.
Maar dié keer het Ma dit nie agtergekom nie, en kort voor lank was hulle op pad huis toe. Ná ’n paar dae het Joel ontdek dat dit nie lekker was om ’n gesteelde sakmes te hê nie. Hy kon dit byna nooit gebruik nie, uit vrees dat hy uitgevang sou word. Meestal moes hy dit goed weggesteek hou!
’n Paar weke het verbygegaan. Toe kom Nathan een aand by die kombuis in, waar Joel en Ma besig was om die skottelgoed ná ete te was. “Kyk, Ma! Ek het hierdie sakmes onder die rusbankkussing gekry. Ek wonder waar dit vandaan kom?”
Joel se hart het wild begin klop terwyl hy toegekyk het hoe Ma die sakmes ondersoek. Hy wens hy kon buitentoe hardloop en verdwyn. Daardie aand het hy die sakmes onder die rusbankkussing ingedruk toe Ma onverwags by die sitkamer ingestap het terwyl sy aangekondig het dat die aandete gereed was. Hy het nooit gedink iemand sou dit daar kry nie.
Skielik het hy besef Ma kyk na hom. “Joel, weet jy waar hierdie een vandaan kom?” het sy gevra.
“O! Ehm – wel – uh – ek dink neef Mike het ’n wit een soos dié,” het Joel gestamel. “Dit – uh – het waarskynlik die ander aand uit sy sak geval toe hulle hier kom kuier het.”
“Ek sien … Wel, ek sal vir tannie Eva hieroor moet vra,” het Ma kalm geantwoord terwyl sy die sakmes op die vensterbank neergesit het.
Joel het ellendig gevoel. Dit het gelyk asof Ma se hartseer oë elke beweging wat hy gemaak het, dophou. Ag, hoe het hy gewens dat hy nooit daardie sakmes gesteel het nie! Elke keer as hy daarna gekyk het waar dit op die vensterbank gelê het, het dit gelyk asof dit groter word! Hy het besluit om vroeg bed toe te gaan, maar toe hy sy oë toemaak, het hy net daardie lelike, wit sakmes gesien, wat hom van die vensterbank af grynsend aangluur!
Die volgende dag het Ma Joel na haar geroep. Sy het die wit sakmes vasgehou. “Ek het vandag vir tannie Eva gebel, en sy het gesê Mike het nie ’n sakmes nie. Nou, Joel, sê vir my … waar het jy hierdie sakmes gekry? En onthou, dit help nie om te lieg nie,” het Ma beslis gesê terwyl sy haar hand onder sy ken gesit en sy hangende kop opgelig het sodat hy haar in die oë moes kyk.
“Ek – uh – het dit by Weaver se winkel gevat,” het Joel gestamel.
“Besef jy dit was steel?” het Ma gevra.
“Ja, ek besef dit, en ek – ek is ook jammer dat ek daaroor gelieg het. Ek sal nooit weer so iets doen nie. Ek – uh – het heeltemal verskriklik gevoel vandat ek dit gesteel het,” het Joel verstik gesê terwyl sy lyf van die snikke geskud het.
“Ek is bly om jou dit te hoor sê, Joel,” het Ma gesê. “Pa en ek het God gevra om jou met hierdie probleem van lieg en steel te help. Vanaand wanneer Pa by die huis kom, sal jy hom alles daarvan moet vertel. Daarna sal Pa en ek besluit wat jou straf moet wees. Dan sal ons jou terugneem winkel toe en kan jy die sakmes vir mnr. Weaver gee. En omdat jy die mes gebruik het, sal jy daarvoor met jou eie geld moet betaal.”
Joel het dit gevrees om voor Pa en mnr. Weaver te staan, maar later, toe alles verby was, het hy soveel beter gevoel. Daardie dag het Joel ’n les geleer wat hy nooit vergeet het nie.

