Myl ná myl het verbygesnel terwyl Carol die ou Chevy met die besige snelweg huis toe bestuur het. Tussen stiltes en gesprekke deur het Carol en haar twee susters, Elaine en Gloria, hul stemme in sang verhef en hul Skepper gedank en geloof. Hoe dankbaar was hulle tog vir die geleentheid om die aand saam met hul vriende by Pine Creek-kerk deur te bring en nog ’n inspirerende boodskap uit God se Woord te ontvang.
Skielik is hul gladde rit deur tekens van moeilikheid onderbreek. “Wat kan nou met hierdie motor verkeerd wees?” het Carol hardop bekommerd gevra terwyl sy die motor wat gaan staan het, na die pad se kant toe gestuur het. “O nee, meisies, ons petrol is op! Ek was so haastig vanaand dat ek vergeet het om die meter na te gaan. Ek het gedink die tenk was amper vol toe ons van die huis af vertrek het, en ... O nee!” het Carol weer uitgeroep. “Pa het die selfoon op die toonbank neergesit sodat ek dit kon saamneem, en ek het dit ook vergeet!”
“Wat gaan ons nou tog doen?” het Elaine uitgeroep. “Hier sit ons nou, in die donker gestrand, sonder petrol, sonder ’n foon, en nog sewe myl van ons afrit af! En nog iets: mense stop deesdae eenvoudig nie sommer gou en bied hulp aan nie. Hulle weet dat byna almal ’n foon by hulle het. Dit lyk vir my byna onmoontlik!” het sy mismoedig van die agtersitplek af gesê.
Terwyl die meisies stil geraak het, het die ou Chevy gelyk asof hy uit protes bewe toe ’n lang ry vragmotors verbygejaag het. “Weet julle,” het Gloria gesê, “ek het net aan Broer Lester se boodskap van vanaand gedink. Hoe kan ons so gou vergeet! Miskien het God toegelaat dat dit met ons gebeur sodat ons geloof kan toeneem wanneer ons op Hom vertrou. Kom ons bring dit in gebed voor die Here. Kom ons verwag ’n wonderwerk uit God se hand.”
Saam het die meisies hul koppe gebuig en die Here om beskerming en hulp gesmeek.
“Weet julle, ek voel sommer nou al beter,” het Elaine glimlaggend gesê. “Ek was so bekommerd en bang, maar noudat ons gebid en alles aan God toevertrou het, is ek seker dat Hy oor ons sal waak. Ek is so bly dat ons ’n God het wat al ons uitroepe hoor. Wat sou ons sonder sy vertroostende Heilige Gees doen? Kom ons sing weer.”
“Vreugde vloei soos ’n rivier,
Sedert die Trooster gekom het;
Hy bly vir ewig by ons,
Maak die gelowige hart sy tuiste.
Geseënde stilte, heilige stilte,
Geseënde sekerheid in my siel!
Op die stormagtige see spreek Jesus tot my,
En die golwe bedaar!”
-Manie P. Ferguson, 19de eeu
Terwyl die meisies lied ná lied gesing het, is hul harte diep geroer. Hoe stil en rustig het hulle gevoel, al was hulle op ’n donker snelweg, dertien myl van die huis af, gestrand. Motor ná motor en vragmotor ná vragmotor het verbygejaag sonder om te stop. Toe sien hulle ’n bakkie met twee veldmotorfietse agterop stadiger ry. Dit het ’n paar honderd voet voor hulle van die pad afgetrek en stadig begin terugry. Die meisies se stemme het stil geword terwyl hulle uit die diepte van hul harte desperaat tot God geroep het. Toe die bakkie stilhou, het twee sterk, langharige mans uitgespring. Carol het haar venster laat sak toe ’n man met ’n rooi-geruite flenniebaadjie nader gekom het.
“Wat is die probleem hier, meisies?” het hy gevra terwyl hy oor die motor geloer het.
“Ons petrol is op,” het Carol vinnig geantwoord.
“Wel, ek sou sê ons is nogal gelukkig. Ons het ’n petrolkan by ons. Hoe ver moet julle nog ry?”
“Sowat dertien myl.”
“Goed. Ons gooi net van ons petrol in julle tenk, dan kan julle weer verder ry. Geen betaling nodig nie.”
“O, baie dankie,” het Carol geantwoord. “Ons het gebid dat God vir ons hulp sou stuur, en Hy het meer gedoen as wat ons ooit kon dink! Baie dankie.”
“Ja, ja,” het die man nors geantwoord. “Julle is nogal gelukkig dat ons verbygekom het. Ons help julle graag.”
’n Paar minute later was die meisies weer op pad. “Weet julle,” het Carol gesê, “toe ek sien hoe daardie bakkie aftrek, was ek terselfdertyd bang en bly. Ek het myself weer begin verwyt omdat ek nie die selfoon by my gehad het nie. Maar toe het ek God gevra om my te help om Hom volkome te vertrou en nie bang te wees nie. Is Hy immers nie baie betroubaarder as enige selfoon nie? Dit het my geloof so versterk. Hoe anders kon dit afgeloop het as ons net op ons selfone of op ‘geluk’, soos daardie mans dit genoem het, staatgemaak het. Dit moet ons Vader se hart geweldig bedroef wanneer ons nie op Hom vertrou nie.”
“Dit is presies soos Broer Lester vanaand gepreek het,” het Gloria bygevoeg. “Onthou julle van daardie verse? Ek het die HERE geduldig verwag; en Hy het na my toe afgebuig en my geroep gehoor ... En Hy het ’n nuwe lied in my mond gelê, ’n loflied tot eer van onse God ... Welgeluksalig is die man wat die HERE sy vertroue maak, wat nie hoogmoediges ag nie en hom ook nie wend tot dié wat leuens navolg nie. –Ps. 40:1-4. Dit maak my so bly dat ek net wil aanhou sing en die Here dank!”
Weer het die meisies hul stemme in sang verhef:
“Sy oog hou altyd wag,
Sy oor hoor elke roep;
Sy liefde is genoegsaam
Om die grootste vrees te stil.
Vertrou Hom dan in sonskyn en skadu;
Vertrou Hom, moenie bang wees nie:
Hy loop digby jou;
Sy hand sal jou veilig lei;
Sy vleuels sal jou veilig beskut;
Vertrou dan! Moenie bang wees nie.”
-Charles H. Gabriel, 1856-1932


