Toe Jesus dan die asyn ontvang het, sê Hy: Dit is volbring: en Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. –Joh 19:30
Terwyl ons hierdie artikel die afgelope jaar ontwikkel het, het ons al hoe meer bewus geword van ’n groeiende belangstelling in hierdie onderwerp. Verskeie artikels en boekies is al daaroor geskryf, of word tans geskryf. Sommige geskrifte debatteer oor spesifieke teorieë van die versoening, terwyl ander oor verskeie terme of Bybelverse redeneer. Watter idees en stellings oor die versoening kom in die duidelike leringe van die Skrif voor, en watter is misverstande of verkeerde vertolkings?
I. Die Versoening
Die term versoening word gewoonlik verstaan as ’n verklaring van alles of ’n deel van wat geestelik (vir die gelowige) gebeur het toe Christus deur sy lyding, dood en opstanding gegaan het. Soms word die term versoening gebruik om dit te beskryf wat mans en vroue tot ’n plek van “een-wees” (om een te wees) met God bring. Hoe raak daardie gebeurtenis in die geskiedenis ons vandag nog, sowat 2 000 jaar later?
In hierdie besprekings is daar ’n neiging om te vergeet dat Christus se voltooide werk verskeie aspekte insluit, wat elkeen ’n ander uitwerking vir die gelowige vandag het. Hierdie verskillende aspekte sluit Christus se lyding, sy bloed, sy dood, sy begrafnis, sy opstanding en sy hemelvaart in.
a. Sy lyding
Sy lyding omvat die liggaamlike, emosionele en geestelike angs wat Hy verduur het en wat op sy dood aan die kruis uitgeloop het. Hier sien ons dat …dit was nodig dat Christus moes ly en op die derde dag uit die dood opstaan … dat bekering en vergifnis van sondes in sy Naam verkondig moet word… –Luk 24:46-47. Die lydende dienaar, soos uitgebeeld in die hele Jesaja-hoofstuk 53, gee ’n lewendige beeld van hierdie aspek van die versoening. Jesaja beskryf Hom as …ter wille van ons oortredinge deurboor, [en] …ter wille van ons ongeregtighede verbrysel: –Jes 53:5. Hier het ons ook die werklikheid dat deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. –Jes 53:5. Laastens sien ons dat Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was… –Jes 53:7, en dat Hy …die moeitevolle arbeid van sy siel… –Jes 53:11 verduur het.
Kom ons let op nog ’n paar van die talle gedeeltes wat oor sy lyding praat: Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring… –1Pet 3:18; hoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het –Heb 5:8; want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, om, nadat Hy baie kinders tot heerlikheid gebring het, die Leidsman van hulle saligheid deur lyding heen te volmaak –Heb 2:10.
’n Doel van Jesus se lyding wat soms vergeet word, is dat ons as gelowiges ons met sy lyding moet vereenselwig, soos in die volgende gedeeltes aangedui word: Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ook ons troos oorvloedig deur Christus –2Kor 1:5; …as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word –Rom 8:17; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word –Fil 3:10.
b. Sy bloed wat gestort is
Dat Christus se bloed gestort is vir die versoening van die sondige mens, verg noukeurige oorweging as ’n besondere, noodsaaklike aspek van die geheel. Dit is natuurlik by punte a. en c. ingesluit, maar die Skrif gee ook baie aandag aan hierdie besondere deel. Dit sou miskien ’n hele boek verg om hierdie aspek uiteen te sit, maar ons moet een ding hieroor opmerk. Met die storting van Jesus se bloed het ons God se spesifieke oplossing vir die vergifnis van ons sondes, soos Jesus dit self verwoord het: Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes –Matt 26:28.
In Hebreërs hoofstukke 9 en 10 kry ons ’n baie uitvoerige verduideliking wat toon dat die “bloedoffers” van die Ou Testament nie op sigself volmaak was nie; dit was eerder ’n “tipe” wat vooruitgewys het na die volmaakte offer—Jesus, die Lam van God. Dit is in hierdie konteks dat ons die volgende lees: …byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie. –Heb 9:22. Dit is veral belangrik om te onthou wanneer ons in gedagte hou dat sommige mense beweer dat God sonde sommer eenvoudig sonder dood of die storting van bloed kon vergewe as Hy so wou. Hierdie mense gebruik die verhaal in Matteus 18:23-35 as bewysteks. Dit sal goed wees om in gedagte te hou dat hierdie verhaal die “waarom” (medelye) van die uitkoms toon, nie die “hoe” van die besonderhede nie. Ons kan hierdie verhaal nie uit die konteks van die Skrif haal en ’n leerstelling opbou wat al die res van die Skrif ondermyn nie. Daarom kom ons tot die gevolgtrekking dat God in sy ordening bepaal het dat sonde moet deur die bloed van Christus weggewas word—en van Jesus Christus, wat … ons van ons sondes gewas het in sy bloed, –Openb 1:5.
Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God –Rom 3:23-25. Hier sien ons dat elkeen van ons wat gesondig het (ons almal), ons versoening moontlik gemaak word deur geloof in sy (Jesus se) bloed.
c. Sy dood
Jesus het gesê: …Ek lê my lewe af vir die skape –Joh 10:15, en weer het Hy gesê: …Ek lê my lewe af om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem… –Joh 10:17-18.
Maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyding van die dood, met heerlikheid en eer gekroon; sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, om, nadat Hy baie kinders tot heerlikheid gebring het, die Leidsman van hulle saligheid deur lyding heen te volmaak. –Heb 2:9-10. Wanneer julle aan die nagmaal deelneem, …verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom –1Kor 11:26.
Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom deur die doop in die dood begrawe, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. –Rom 6:3-4
Dit is gedurende hierdie tydperk van Jesus se lewe op aarde dat die aardse, sterflike deel van Hom geskei is van dit wat hemels, ewig en onsterflik was.
d. Sy begrafnis
Ons let weer op die waarheid waarna hierbo verwys is: Ons is dus saam met Hom deur die doop in die dood begrawe… –Rom. 6:4. Al hierdie aspekte vorm deel van die geheel, maar die begrafnis verteenwoordig …’n koringkorrel wat in die grond val en sterf… –Joh 12:24. Eers kom die einde van die lewe (die uitstorting van die bloed), dan die dood, dan die begrafnis en daarna die opstanding. Die begrafnis bevestig dat die dood plaasgevind het. Dit bring finaliteit, afsluiting en ’n einde aan die vorige toestand. Dit is die noodsaaklike tydperk tussen dood en opstanding.
Dit is ook die tyd toe Jesus Hades, die plek van afgestorwe siele, binnegegaan het; hiervan kry ons slegs ’n paar kykies in verskeie Skrifgedeeltes.
e. Sy opstanding
In sy opstanding word ons saam met Hom opgewek tot ’n nuwe lewe. (Romeine 6:4) …waarin julle ook saam met Hom opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het –Kol 2:12. In sy opstanding word ons dus saam met Hom uit die dood opgewek (as ons voorheen dood was) en ontvang ons die krag om in ’n nuwe lewe te wandel (die krag om die oorwinning oor sonde te behaal).
f. Sy hemelvaart
In sy hemelvaart verstaan ons dat …Hy is opgeneem terwyl hulle dit sien; en ’n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. –Hand 1:9. Dit is omdat Hy hierdie aarde verlaat het dat ons vandag baie belangrike dinge vir die gelowige se lewe het. Die Heilige Gees kon voorsien word nadat Jesus hierdie aarde verlaat het. Ons het die belofte dat Hy ’n beter tuiste gaan voorberei waar ons eendag by Hom in ewige vreugde sal aansluit. Ons het Jesus wat aan die regterhand van die troon van God sit en vir ons intree. Ons het Jesus wat optree as ons simpatieke Hoëpriester, iemand wat elke behoefte en stryd van ons ken en verstaan, aangesien Hy die ervaring het van ’n lewe op die sondige aarde in ’n sterflike liggaam.
Hier begin ons sien hoe elke deel van die Versoening ’n ander uitwerking vir die gelowige het en dat elke deel slegs dit is—’N DEEL. ’n Deel van die geheel. ’n Deel van Christus se voltooide werk. Elkeen van hierdie lyste kan bladsy na bladsy voortgaan met al die seëninge en voordele wat elke aspek vir die gelowige moontlik maak. Ter wille van die ruimte sal ons hierdie deel vir eers hier laat en met die res van die artikel voortgaan, maar hopelik sal dit elkeen van ons aanspoor tot verdere nadenke oor hierdie sake in God se Woord.
II. Algemene stellings wat nie Bybels korrek is nie
Daar is gewilde stellings oor die versoening wat ons dalk hoor, maar wat nie akkuraat beskryf wat die Skrif leer nie. Omdat hulle egter gewild is in ons gesprekke, of dalk selfs die woorde van ’n bekende lied is, kan hulle ons begrip van Christus se voltooide werk verwring. Kom ons kyk na die volgende stellings as voorbeelde:
a. “Christus het my plek op Golgota ingeneem.”
Dit kan na ’n logiese gevolgtrekking lyk, want Hy het vir ons gesterf, …Hy, die Regverdige, vir die onregverdiges… –1Pet 3:18. en Hy het gesterf sodat ons kan lewe. Daar is geen twyfel dat dit vir ons was nie, maar die voorsetsel vir kan op verskillende maniere verstaan word. Dit kan in my plek beteken, of dit kan tot my voordeel beteken. Die grootste deel van die Skrif beklemtoon duidelik dat Hy tot my voordeel gesterf het, maar die idee van ’n direkte plaasvervanging is minder duidelik. As ons plaasvervanging beklemtoon, lei dit ons tot die volgende gedagte: Hy het in my plek gesterf, dus hoef ek nie te sterf nie. As dit die oorheersende manier word waarop ons oor die versoening dink, kan ons miskyk wat net so belangrik is—dat omdat Hy gesterf het, ek ook saam met Hom moet sterf. Sien Rom 6:1-11
b. “Die skuld van my sonde is op Christus gelê.”
Daar is gedeeltes wat sê dat Christus ons sondes gedra het. So sal Christus ook, nadat Hy eenmaal geoffer is om die sondes van baie te dra… –Heb 9:28 en, wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het… –1Pet 2:24. Maar wat is die regte begrip van wat dit beteken om ons sondes te “dra”? Ons vind NIE ’n Skrifgedeelte wat die idee ondersteun dat die skuld van my sonde op Christus oorgedra is nie. Christus het Homself aangebied as die offer vir sonde (Heb 10:10-12), as die versoening vir ons sondes (1Joh 2:1), om sonde weg te neem, en selfs om die vergifnis van sonde te wees. Hierdie groot werk om sonde te hanteer, is volbring sonder dat Hy ooit sy toestand as die Lam sonder gebrek verloor het.
Daar is een gedeelte oor hierdie onderwerp waarop ons moet let: Hom [God] het Hy [Jesus] vir ons sonde gemaak, Hom wat geen sonde geken het nie… –2Kor 5:21. Wanneer ons kyk na die Griekse woord in hierdie vers wat met “sonde” vertaal is en hierdie gedeelte met al die ander Skrifgedeeltes vergelyk, lyk dit asof die bedoelde betekenis van die frase vir sonde gemaak duideliker weergegee word as ’n sondoffer gemaak. Christus se siel is nie deur die skuld van ons sonde verduister nie; anders sou Hy nie sy posisie kon behou as …’n lam sonder gebrek en vlekkeloos nie –1Pet 1:19. Die regte begrip van die sin waarin Hy ons sondes op Hom geneem het, is dat Hy die vereffening daarvan op Hom geneem het.
c. “Hy het die toorn van God op Hom geneem.”
Wat God se toorn betref, weet ons dat …hy wat die Seun ongehoorsaam is, die lewe nie sal sien nie, maar die toorn van God bly op hom –Joh 3:36; …die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk –Rom 1:18; …en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander –Ef 2:3.
Die versoening is egter bewerkstellig, en daarna lees ons in Romeine: Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn –Rom 5:9. Dit is dus duidelik dat God se toorn teenoor ons weens sonde nou afgewend word wanneer ons deur sy bloed geregverdig is. Die Skrif sê egter nie dat Christus die toorn van God verduur het nie. Dit kan na ’n logiese gevolgtrekking lyk dat God se toorn oor sonde op Christus moes neergekom het as die toorn afgewend is en die versoening bewerkstellig is, maar dit word nie so in die Skrif gestel nie. As ons kyk na die verhaal van Abraham wat sy seun Isak offer, was daar geen toorn van Abraham se kant nie. Laastens was God “in Christus besig om die wêreld met Homself te versoen”, en hier word beklemtoon dat Christus se offer om sonde weg te neem aan ons die groot liefde toon wat die Vader vir ons het.
d. “God kyk nie meer na my nie; al wat Hy sien, is Christus.”
Die versoening moet nie beskou word as ’n bedekking vir sonde nie, soos baie dit dalk doen. Dit word soms ook só gestel: “Aangesien Christus aan die kruis vir my sonde gesterf het en ek in Hom glo, sien God nou net Christus se geregtigheid. Wanneer God na my kyk, sien Hy nie meer my sonde nie; al wat Hy sien, is Christus se geregtigheid.” Daar is baie fout met hierdie beskouing, en die gevolg daarvan is dat baie mense selfvoldaan en verdraagsaam teenoor sonde in hul eie lewe raak. Deur die versoening in Christus het God alles wat nodig is vir reiniging en heiligmaking vir ons beskikbaar gestel, maar nee, God reken nie Christus se geregtigheid aan ons toe nie. God se doel met die versoening was om ons regverdig te maak deur ons sonde te reinig. Ons moet onsself as dood vir die sonde reken en lewend vir God. Dit beteken nie dat ons volmaaktheid bereik het nie, maar ons laat toe dat die versoening voortdurend in ons lewe uitwerking het.
Vir eers maak ons in afdeling III opsommende stellings, en in afdelings IV en V plaas ons bloot subopskrifte. As die Here wil, kan ons in ’n toekomstige artikel meer tyd daaraan bestee om elkeen verder uit te werk. Tot dan moedig ons elkeen aan om self Bybelstudie te doen om die Skrif se volledige lering oor hierdie onderwerp beter te verstaan. Laastens is dit ons opregte begeerte dat elkeen van ons sal toesien dat ons nie mislei word deur die talle stemme van buite en binne wat Satan wil gebruik om die kerk van Jesus Christus weg te keer van …die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. –Jud 1:3
III. Wat die Versoening NIE doen nie
a. Dra NIE skuld van die een na die ander oor nie
Soos ons hierbo gesê het, het ons skuld nie Christus se siel verduister nie. Hy het versoening bewerk sodat ons sondes vergewe kan word. Hy het ’n offer vir sonde gebring, of is as offer gebring, en Hy is ter wille van ons oortredinge verwond; deur hierdie daad word ons sonde gereinig en ons skuld weggeneem, sonder dat Hy in ons plek skuldig word.
b. Dra NIE geregtigheid van die een na die ander oor nie—van Christus na ons
Deur Jesus, ons Here, ontvang ons alles wat op die lewe en godsvrug betrekking het. Ons kan sê dat ons geregtigheid slegs in Hom is, maar ons sê nie dat sy geregtigheid op een of ander manier aan ons toegereken word wanneer ons tekortskiet nie. Sien ook hieronder oor die kwessie van wandel in die Lig.
c. Beskerm ons NIE teen skade nie/Bou nie ’n beskermingsmuur om ons nie
Ons Soewereine Vader beskerm ons volgens sy wil. Ons beskerming kom nie uit die versoening nie; dit kom eerder uit ons verhouding met God terwyl ons in geloof en gehoorsaamheid wandel en nader aan Hom kom. God beskerm dié wat aan Hom behoort, volgens sy wil. Daar is geen waarborg dat slegte dinge nie sal gebeur nie; God belowe eerder dat Hy by sy kinders sal wees deur alles wat Hy toelaat dat hulle deurgaan.
d. Hou Satan nie van ons af weg nie
Ons Vader doen dit volgens sy wil (sien Job 1 en 2, asook 1 Kor 10:13). Ons hoef nie “die bloed as beskerming aan te roep” asof Christus se bloed ’n manier is om bose magte af te weer nie. Ons het die wapenrusting van God, die skild van die geloof en die swaard van die Gees, saam met alle gebed, om die magte van die duisternis te oorwin.
IV. Wat die Versoening WÉL doen
- Dit versoen
- Dit voorsien ’n offer vir sonde
- Dit voorsien ’n sondoffer
- Dit verlos
- Dit loskoop
- Dit voorsien vergifnis van sondes
- Dit voorsien kwytskelding van sondes
- Dit reinig ons
- Dit stel God in staat om ons as onberispelik te sien
- Dit maak ons regverdig in God se oë
- Dit maak dat gelowiges deel van God se familie word
- Dit maak dat gelowiges broers en susters word
V. Wat alles volbring is
- Sy lyding
- Sy versoekings
- Sy arbeid op aarde—sy prediking en lering
- Die offerstelsel—offers wat nooit die sondes kan wegneem nie –Heb 10:11
- Die wet—ons tugmeester was om ons na Christus te bring… –Gal 3:24
- Beperkte toegang tot God—En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur… –Mark 15:38


