Groete in die waardige Naam van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Ek vertrou dat ons harte te midde van die huidige onsekerhede in die wêreld saam met die psalmis weerklink: By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug, is in God –Psalm 62:7. En, God is vir ons ’n toevlug en sterkte; altyd gereed om te help in benoudheid –Psalm 46:1.
Ons beleef ongekende en uitdagende tye. Meer as wat baie van ons in ons leeftyd kan onthou. Ek is seker dat elke geslag uitdagings beleef het wat uniek was aan hulle tyd in die geskiedenis. Dieselfde geld vir ons. Maar wat is ons ‘tyd’ in die geskiedenis? Die meeste godvresende mense glo dat ons op die drumpel staan van dit waarna die Skrif verwys as “die tyd van die einde”. (Sien Daniël 8:17; 11:35; 11:40; 12:4; & 12:9)
Miskien is dit net ek, of dalk het dit baie te doen met hoe vinnig nuus deesdae oor die wêreld versprei word. Maar dit lyk beslis asof daar baie meer chaos en gewelddadige natuurrampe is as vyf of tien jaar gelede. Orkane, tornado’s, veldbrande, aardbewings, droogte, oorstromings, politieke onrus, oorloë en gerugte van oorlog. Het ek iets vergeet? O ja, daar is die immerteenwoordige probleem van ’n wêreldwye pes—Covid-19.
Dit lyk asof baie mense in die wêreld vandag die gevoel het dat “iets aan die gang is”, of dat “iets op die punt staan om te gebeur”. Ons behoort nie hieroor verbaas te wees nie; Jesus het dit voorspel. Ons moet nie deur vrees oorweldig en afgelei word nie; Jesus het vir ons gesê wat ons moet doen. In die volgende Skrifgedeelte het ek drie dinge onderstreep wat ek sien Jesus wil hê ons aktief moet doen solank die tyd voortduur.
En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte. Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie struikel en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van baie verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom –Matteus 24:4-14.
Pas op dat niemand julle mislei nie
Ek vind dit interessant dat Jesus dit noem voordat Hy vir ons sê wat Hy wil hê ons moet doen. Iemand het gesê dat geestelike blindheid anders is as fisiese blindheid: wanneer iemand fisies blind is, weet hy dit, maar wanneer iemand geestelik blind is, weet hy dit nie. Trouens, dit is die grondslag van geestelike blindheid—om nie meer bewus te wees van jou eie geestelike toestand nie.
Deur watter dinge kan ons mislei word? Wie kan dalk probeer om ons te mislei? Laat ons altyd onthou dat Satan enigiemand wil gebruik wat hy kan, op enige manier wat hy kan, om soveel mense as moontlik te mislei. Job se vriende het teen hom gedraai, en selfs sy eie vrou het Satan se eie woorde as ’n uitweg aangebied (Sien Job 1;11; 2:5; en 2:9). Ons behoort nie verbaas te wees as ons onsself in soortgelyke situasies bevind nie; Christus het voorspel dat dit sou gebeur (Sien Matteus 10:35-36; en Lukas 12:53).
Laat ons nooit vergeet dat God ’n paar duidelike oplossings gegee het wat ons kan volg om te voorkom dat ons mislei word nie. Broeders, pas op dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag, solank dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vaste vertroue tot die einde toe onbeweeglik vashou, terwyl daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie –Hebreërs 3:12-15.
Volhard tot die einde toe
Dit is een van die interessanter Skrifgedeeltes waaraan ek dink wanneer daar ’n hewige bespreking is oor die vraag of iemand wat eenmaal gered is, dan altyd gered is en dus nooit weer ongered kan word nie. Verseker die Skrif ons nie …dat julle kan weet dat julle die ewige lewe het… –1 Johannes 5:13. Petrus sê egter vir ons om …op te pas dat julle nie ook, deur die dwaling van die wettelose mense meegesleep, van julle eie vastigheid afval nie –2 Petrus 3:17.
Hoe bring ons dit dan bymekaar sodat die Skrif met homself ooreenstem? Eerstens moet ons aanvanklik gered word sodat ons die ewige lewe kan hê, wat ons die krag gee om in gehoorsaamheid aan God se Woord te wandel. Tweedens bly ons gered solank ons aanhou om in gehoorsaamheid aan die Skrif te wandel. Laastens word ons vir ewig gered, INDIEN ons deur die lewe getrou volhard tot die einde toe (die einde van ons lewe hier op aarde).
Verkondig die Evangelie in die hele wêreld
Verkondig die Evangelie? Ja. Miskien kan ons nie almal persoonlik die prediking doen nie, maar ons kan almal ons deel doen om die kerk te help om hierdie opdrag uit te voer. Sommige mense het God bestem om ure lank in hulle gebedskamer deur te bring in ernstige voorbidding. Sommige is geroep om uit hulle geldmiddele te gee om ander te ondersteun wat gekies is om op die voorste linies die Evangelie te verkondig. Dit is ’n gesamentlike poging. Dit is die kerk as geheel wat saamwerk, met elke plaaslike kerk wat sy deel doen en elkeen wat sy individuele deel doen.
Laat ons nie toelaat dat die chaos en verwarring rondom ons ons aandag aftrek en ons gedisoriënteerd laat raak nie. Laat ons as broers en susters saamstaan met ’n gemeenskaplike doel—om nie mislei te word nie, tot die einde toe te volhard en die Evangelie in die hele wêreld te verkondig.
Aan Hom dan wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen. –Judas 1:24-25.



